Ooreenkoms verdubbel indiensopleidingsgeleenthede vir BKO-studente

By Bo-Karoo Opleiding · Sep 10, 2024

Bo-Karoo Opleiding (BKO) en Plaasbestuurder.co.za, ‘n werwings- en plasingsmaatskappy, het onlangs ‘n ooreenkoms gesluit wat die indiensopleidingsmoontlikhede vir BKO-studente vergroot.
 

Indiensopleiding vorm ‘n integrale deel van veral BKO se Boerderybestuurkwalifikasie. Dié komponent van studente se studies bied aan hulle die geleentheid om die teoretiese kennis prakties toe te pas en so self die teoretiese hand op die plaas aan die spreekwoordelike ploeg te slaan. Boonop verseker indiensopleiding by gehalte werkgewers dat studente waardevolle werkservaring opdoen, wat hul CV ‘n groot hupstoot gee.


Volgens Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, bied BKO aan studente die ideale geleentheid om ‘n nasionaal geakkrediteerde kwalifikasie in ‘n goed gestruktureerde landelike omgewing te verwerf. “Die boerderystudente wat ons oplei is afhanklik van goeie indiensopleiding om seker te maak dat hulle blootstelling aan alle fasette van ‘n boerdery kry. BKO lei roepingsgedrewe studente op wat ‘n groot impak op die arbeidsmark maak, plaaslik en regoor die land. Hierdie ooreenkoms bring ons ‘n tree nader daaraan om, nadat die student met sy indiensopleiding klaar is, die beste boerderystudente in Suid-Afrika te kan lewer,” sê Vogel. Hy skerts verder: “Hier speel ons nie plaas
nie, hier boer ons!”

Plaasbestuurder.co.za, gestig deur die ervare boer Vernon Hambrock, spesialiseer in die werwing van kandidate uitsluitlik vir boerdery- en landboubesighede. Hul noukeurige werwingsproses verseker dat kandidate nie net die nodige kundigheid, kennis en bekwaamheid het wat verwag word nie, maar dat hulle ook die vereiste karaktertrekke en nodige aanpasbaarheid het om goed by die boerdery se kultuur in te pas. Hambrock verstaan, uit eie ondervinding, watter uitdagings boere in Suid- Afrika en Namibië in die gesig staar, veral ten opsigte van die identifisering van kundige kandidate vir vakatures, en hy is vertroud met die kandidaatprofielvereistes van veral Plaasbestuurders.


Die samewerking met BKO verseker dat goed opgeleide studente en gehalte werkgewers mekaar
vind en so word ‘n wen-wen situasie geskep. 

In 2019 kom BKO met slegs 5 studente tot stand. Tans spog die instelling met 177 studente – 131 op kampus en 46 besig met praktiese beroepsopleiding. Daar is ook 3 koshuise, 1 daghuis, 20 roepingsgedrewe personeel, die Leer-my-hoe-proefplaas, en splinternuwe werkswinkels – alles as deel van ‘n positiewe gemeenskap. Dis hier waar BKO die studente help bou aan ‘n hoopvolle toekoms.

Finale Jaar BKO Studente kan by Plaasbestuurder.co.za deur die skakel aansoek doen jaarliks vir geleenthede.

Share on

Comments

No comments yet.
Click here to contact us on WhatsApp